Ga direct naar
Inhoud

Tuisonderwijs - episode 1

maandag 19 oktober 2009 Tuisonderwijs; 'n lewensvatbare alternatief vir gefaalde openbare onderwys in Suid-Afrika?

INLEIDING

Sedert die 1994-verkiesing in Suid-Afrika en die nuwe ANC-regering se aandrang op en invoer van “uitkomsgerigte onderwys” (resp. Eng.: outcomes-based education (OBE)) het die akademiese gehalte van onderwys in – spesifiek – openbare skole in my land dermate agteruit gegaan, dat dit vir alle praktiese doeleindes misluk het. ‘n Beduidende aantal ouers het hierdie stelselmatige agteruitgang van ons nuwe onderwysstelsel egter betyds geïdentifiseer en besluit om hulle kinders uit die openbare skole te haal en eerder tuis te onderrig (en / of te laat onderrig). Die debat oor die sukses, al dan nie, van tuisonderwys is in Suid-Afrika egter nog lank nie afgeloop nie en dit is dalk goed dat u, as my kollegas, hier by Hogeschool De Driestar straks behoort te verneem hoe ons tans daaroor nadink.

AGTERGROND

Die begrippe ‘tuisonderwys’, ‘huisonderwys’ en ‘oop leerbenadering’

Verskeie begrippe word tans gebruik om na die aangeleentheid van tuisonderwys te verwys. Begrippe wat vry algemeen gebruik word, sluit in: (a) tuisonderrig, (b) tuisonderwys, (c) tuisskool, (d) huisskool, asmede (e) die Engelse begrippe ‘homeschooling’ (soms ook gespel ‘home schooling’, of ‘home-schooling’) en  ‘home education’ (soms ook genoem ‘home-based education’) (De Waal, 2000: 23). Die begrip ‘tuisonderwys’ word egter oor die algemeen verkies, aangesien dit sowel die didaktiese handelinge van die ouer-as-pedagoog, as die leerhandelinge van die leerder fenomenologies pedagogies bevredigend verreken.

Die semantiese waarde van die begrip ‘tuisonderwys’ dui op die voorsiening van verpligte onderwys tuis (d.w.s. in en vanuit die ‘ouerhuis’), deur die ouers of wettige sorggewers van die kind self, as ’n alternatief vir tradisionele openbare of private skoolonderwys (De Waal, 2000: 24). As één van vele vorme van onderwysvoorsiening, word tuisonderwys tans in Suid-Afrika as ‘n ‘oop leer- en onderwyskundige benadering’ beskou, aangesien dit geag word ‘n onderrigleerondervinding te wees wat sonder enige konvensionele strukture en beperkings is (Brynard, 2007: 83). Binne oop leer is leerders grootliks vir hulle eie leer verantwoordelik, aangesien hulle normaalweg self kan besluit oor wat, hoe, waar en wanneer hulle leer (ibid.).

Ter wille van duidelikheid behoort die begrip ‘huisonderwys’ egter óók kortliks omskryf te word. ‘Huisonderwys’ (ook soms genoem ‘huisskoling’) verwys na ’n opset waar kinders uit die openbare skool onttrek word om tuis onderrig te ontvang.  Dit word ook soms tuisgebaseerde onderwys genoem (De Waal, 2002: 25). ’n ‘Huisskool’ bestaan egter nie noodwendig net uit lede van ’n enkele gesin nie en die ouers of wettige sorggewers van die kind tree eweneens nie noodwendig as onderwysers op nie.  Ouers van ander gesinne, studente, onderwysers of ander kundiges uit die gemeenskap word dikwels benut om bepaalde aangeleenthede te onderrig, sonder dat daar enige vergoeding van die staat ontvang word (ibid.).

In Episode 2, gee ek graag ’n historiese blik van “tuisonderwys”.

Tot straks. Doooeeeiii!

Ferdinand J. Potgieter

Labels

«Terug

Reacties op "Tuisonderwijs - episode 1"

Nieuw bericht




Snelkoppelingen